Houtlaswerk

In houtlaswerk word bypassende voeë, wat uit gate en gleuwe bestaan, in afsonderlike stukke hout gemaak wat stewig inmekaar sal pas wanneer dit saamgevoeg word. Die struktuur wat gevorm moet word en die kragte wat daarop inwerk, sal die tipe houtlas bepaal. Moderne, sterk houtlym maak die toepassing van sommige van die ingewikkelde houtverbindings onnodig en het eenvoudiger en vinniger houtlaswerk moontlik gemaak.

Die houtdele word dikwels net teen mekaar geplaas en met spykers en skroewe geheg. Skrynwerkers wat meestal konstruksiewerk doen, maak gewoonlik van eenvoudiger metodes gebruik, terwyl kabinetmakers hulle toespits op voeë, wat afgesien van stewigheid, nie die voorkoms van die produk bederf nie. Ongeag die gehalte van 'n las, kan 'n aantal basiese verbindings met behulp van verskeie tegnieke gemaak word. Die basiese verbindings is lengte-, wydte- en hoekverbindings.

Die verskeidenheid van metodes waarvolgens bogenoemde laswerk gedoen word, het gelei tot 'n aantal erkende terme wat in die vaktaal van die houtwerker opgeneem is. Die beskrywende aard daarvan maak dit vir die vakman moontlik om 'n verbinding sonder die oorbodige gebruik van woorde te beskryf. 'n Uitsteeksel wat aan 'n stuk hout voorkom - wat doelbewus so gevorm is dat dit op 'n bepaalde plek op 'n ander stuk hout sal pas word byvoorbeeld 'n lip, tap, tong of 'n pen genoem. 'n Versinking in die ander stuk hout, waarin een van bogenoemde kan pas, kan byvoorbeeld weer 'n keep, groef, gleuf of gat wees.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy